검색 양식

Psalm 95

Kom ons sing vir die Here

1Kom, kom ons sing vir die Here,

kom ons juig vir die *Rots wat ons altyd red.

2Kom ons gaan na Hom toe

en sê vir Hom dankie,

kom ons sing en juig vir Hom.

3Want die Here is ’n groot God,

Hy is die Groot Koning oor al die *gode.

4Hy regeer oor die diep plekke onder die aarde,

en die hoogste plekke op die berge is Syne.

5Die see is Syne, Hy het dit gemaak,

en die land het Hy met sy eie hand gemaak.

6Kom, kom ons gaan lê voor Hom,

kom ons buig, kom ons kniel

voor die Here, Hy wat ons gemaak het.

7Want Hy is ons God,

ons is sy volk, Hy is ons *Herder.

Ons is die skape en die bokke vir wie Hy sorg.

Julle moet vandag na Hom luister.

8Hy sê: “Julle moenie hardkoppig wees

soos by *Meriba nie,

daardie dag by *Massa in die woestyn

9waar julle *voorvaders My getoets het.

Hulle het gesien wat Ek gedoen het

maar hulle wou kyk of Ek hulle sal straf.

10Veertig jaar lank het Ek

niks van daardie *geslag gehou nie.

Ek het gesê: Hulle is mense

wat nie weet wat hulle doen nie,

hulle wil nie lewe soos Ek wil hê nie.

11Ek was kwaad en Ek het gesê:

So seker soos Ek lewe,

hulle sal nie kom in die land

waar Ek hulle rustig wou laat woon nie.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index